ʼn Fontein Hoop by Jan Krielskool
Julian se dik lêer van foto's, sertifikate, koerantuitknipsels en medaljes vertel die storie van 'n talentvolle en toegewyde sportman. As 'n jong, provinsiale krieketheld was hy besig om sy drome te verwesenlik om eendag sy land te verteenwoordig. Op 'n katkisasiekamp in 2005 het dit eensklaps verander. Uitgelate en vol lewenslus het Julian agter 'n tennisbal in die swembad ingeduik. Hy, wat herhaaldelik gekroon is as Sportman van die Jaar en 'n leier tussen sy maats, is uit die swembad gehaal as iemand wat van nou af "verlam is van sy nek af". In die sagter en korrekte taal: 'n spinale koord besering. 'n Kwadrupleeg wat lewenslank in 'n rolstoel moet lewe! Hartroerend vertel sy ouers, Aby en Lynn, van al die bekommernisse, die skok, die donker nagte en die hoop-lose verwagting dat Julian sou bly lewe. Hulle praat waarderend van baie gebede dwars oor Suid-Afrika en in die Buiteland. Met 'n beentjie uit sy heup is sy kop weer suksesvol geheg aan sy ruggraat. Dankie tog, Julian leef! Maar kan hy hierdie nagmerrie oorleef en sal hy ooit weer met sy vorige lewenslus en ideale kan leef? Dit vra verstommend baie om vir iemand soos Julian 'n tweede lewe moontlik te maak. Hy is totaal afhanklik van ander om te bad, te skeer, tande te borsel, aan te trek. Hy moet omgedraai, gedra en gevoer word. Hy kan nie sit nie, het 'n spesiale bed en matras en moet altyd vasgegespe word. Met noukeurige beplanning, baie ongerief en die prysgee van privaatheid word sy basiese liggaamsfunksies gereguleer. Nadat omgesien is na Julian se basiese versorging, kom die groter vraag ... en wat nou? Hoe lyk sy toekoms? En dit is hier waar Jan Krielskool in die prentjie gekom het. Sy ouers sê dit is asof Jan Krielskool bestel is en dat die Here vir hom daar 'n plekkie gereed gemaak het. Hulle is sprakeloos in hul verwondering en dankbaarheid oor wat Jan Kriel vir Julian doen. Vir 7 uur uit 'n dag sorg hulle vir hom. Met die hulp van 'n elektriese rolstoel, 'n skootrekenaar en spesiale tegnologie doen hy weer skoolwerk. Die persoonlike liefde, aanvaarding, aanmoediging van sy fisio- en arbeidsterapeut, sy sielkundige, die verpleegsters en ander opvoeders by die skool is ongekend Julian droom weer! Vir maande was hy die stil kind wat (weens swak bloedsomloop) permanent koud kry. Toegedraai in 'n kombers en serp kon 'n mens byna nie sy gesig sien nie. Toe gebeur 'n wonder. Daar is bietjie beweging in sy arms. En die groter wonderwerk gebeur. Hy leef weer met hoop. Julian straal werklike innerlike krag uit. Hy is die inspirasie en positiewe invloed in sy klas. Vriende omring hom omdat hulle graag in sy teenwoordigheid wil wees. Aby sê die mense dink hy moet moeg wees om so baie vir sy seun te doen, maar hulle verstaan nie dat Julian se positiewe uitkyk op die lewe hom sterk maak. En Julian sê met 'n verskriklike oop en warm glimlag: Jan Krielskool is 'awesome'. Hulle verstaan al my behoeftes. Ek kan net vra ... Dit was nog nooit so nie. Ek gaan nog 'n 'accountant' word met my stoel en rekenaartjie Die ongeluk het sy nek gebreek, maar nie sy gees nie! Mense rondom Julian, sy gesin, die kerk en Jan Krielskool het hom gehelp om weer met hoop te lewe. Dit is die lig wat die donkerte verdryf. Want ons Here is die Lig en die Hoop vir die wêreld. Van Hom kry ons die inspirasie en begeerte om hoop en lig in kinders soos Julian se lewe in te dra. |
|||||||||
|
|||||||||