Welgemeend kry rekenaars – Swartlander, 17 Junie 2009Cor Cronjé Die provinsiale minister van onderwys, Donald Grant, het Welgemeend Primêr onlangs besoek met die opening van hulle nuwe rekenaarlokaal. Die skool bedien die omliggende plase, sowat twintig, se kinders van graad 1 tot 7. Die skool het ook ʼn klein preprimêre klassie. Gedurende die koue, nat wintermaande moet kinders tot amper vyf kilometer loop om by die skool te kom, aangesien daar nie busgeriewe beskikbaar is nie. Busse word slegs gebied vir skole waar die afstand verder as vyf kilometer is of oor gevaarlike roetes moet gaan. Daar word staatgemaak op die welwillendheid van die boeregemeenskap en daar is ook ʼn aantal fietse beskikbaar gestel. Gedurende die reënerige wintersdae is daar tot 50% leeders afwesig teenoor die bywoning van 80 tot 90% gedurende die somermaande. Daar sal ʼn aksieplan in samewerking met die gemeenskap opgestel moet word om die bywoning, veral gedurende die wintermaande, te verbeter, het die minister gesê. Hy is bekommerd oor die afname in syfergeletterdheid en vra dat ouers en onderwysers iets daadweklik daaraan moet doen. Hierdie is ook die verantwoordelikheid van die ouers. Die kinders moet die vaardigheid reeds by die ouerhuis aanleer, want die opvoeding van die kinders is ook ʼn deel van die ouer se verantwoordelikheid. Gedurende die besoek aan die skool is daar ook ingeloer in die klaskamer waar ʼn onderwyseres, Pam Esau, ʼn klas in syfervaardigheid aangebied het. Dit is duidelik dat die probleem ook die onderwysers na aan die hart lê en dat hulle alles in hul vermoë sal doen om dit te verbeter. Francois Arendse, die hoof van Welgemeend, het aangedui dat hulle besig is om die ou polisie-vraghouer op die skoolgronde te bekom vir ʼn biblioteek. Die minister het die onderwysers geloof vir die goeie wek wat hulle onder moeilike sosiale omstandighede doen en kinders aangemoedig om positief te bly en hul skoolloopbaan te voltooi. |
||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||